Ons is lief vir ons dorp, trots op sy kulturele rykdom en waardeer die uitstalling van baie van die kunswerke wat ons strate versier. Ons staan die onlangse vandalisme van sommige van die beelde ten strengste teen. Tog is ons ongelukkig oor die voortdurende tentoonstelling van sekere beelde wat vir die gewone oog liewer na onooglike drogbeelde as kunswerke lyk. Ons voel dat die Stellenboschse publiek nie in aanmerking geneem is met die keuse van kunswerke nie en vind sulke beelde onaanvaarbaar, vir veral gesinne met kinders wat geen keuse gelaat word as om daarna te moet kyk wanneer ons daar verbystap nie. Die negatiewe ervaring is nie net beperk tot kinders nie, maar impak ook die studente en volwasse publiek. Ons voel dat sulke kunswerke liewer in kunsgallerye hoort waar mense 'n keuse het om te besluit of hulle daarna wil kyk of nie. Ander naakbeelde met blootstelling van genitalieë, wat in die dorp en op die kampus ten toon gestel is, behoort nie op 'n oop terrein uitgestal te word nie, en ons vra dat sulke beelde in die toekoms nie oorweeg sal word vir openbare uitstalling nie.